A Walk in the Park – Lockdown Style

A Walk in the Park – Lockdown Style

15 April 2020. Dag 20 van die Groot Inperking. Dit was nie ‘n goeie dag vir Sonja nie. Behalwe vir die R500 fine wat sy vroeër die dag gekry het, het haar werkgewer laat weet almal gaan ‘n pay cut vir die volgende drie maande moet vat. Dis die nuwe realiteit. Gelukkig het sy nog ‘n werk; baie ander is skielik daarsonder.

Ek het vroegoggend ‘n snoek uitgehaal wat ek die aand wou braai. Erens deur die dag laat weet ek haar dat ek lus is vir krummelpap en daai lekker sous wat sy altyd saam met die pap maak. “Saam met die snoek?” Jip. So gesê, so gedaan. Pap en snoek. En daai lekker sous.

Vroegaand maak ek ‘n lekker gesellige vuurtjie en ons skop bene uit. ‘n Glasie wyn of twee later, en die troubles van die dag begin ligter op ons skouers hang. Ek braai daai snoek so na aan perfek as moontlik – ek weet hoe Sonja van hom hou. Aan tafel vervreet ek myself aan die krummelpap en sous – hel, ek was regtig lus vir daai stuff! Trommeldik sit ons toe later rondom die kole en drink nog ‘n glasie wyn.

“Ek wil ‘n entjie gaan stap. Net om my kop bietjie skoon te kry…”, sê Sonja. Dis lockdown. Stap is uit soos koekies in die weeshuis. Maar ek stem in – as dit is wat sal help, so be it. Ons was die skottelgoed, sit die Moegoe in die bed, en durf die stil strate aan.

Niks roer nie. Die buurt is tjoepstil. Hier en daar sien en hoor jy ‘n TV. Party huise is grafstil. Niemand is buite nie; nie eens iemand wat nog braai nie. Ver weg hoor jy vragmotors deur die dorp dreun, maar hier in die buurt beweeg geen voertuie nie. Sonja wonder hardop of die polisie die buurte patroleer, en antwoord haarself dan dat sy nie so dink nie. Ek weet nie. Ek hoop nie so nie. Die laaste ding waarvoor ek nou lus is, is ‘n konfrontasie met die polisie. My maag staan punt van al die pap en sous.

Waar ons uit ‘n systraat by ‘n T-aansluiting kom, moet ons kies: links of regs? Links is reguit huistoe. Regs beteken ons kan “om die blok” stap. Sonja kies links. Ek kies regs. Ek wen. Bo in die straat klim iemand op ‘n poegie en ry stil-stil weg. Ek ken ‘n skelm kuiery as ek hom sien.  Dis lockdown – onskuldige goedjies moet deesdae skelm gedoen word. ‘n Hond blaf skielik langs ons. Fok! Sjarrap, brak! Ons mag nie hier wees nie! Ons stap so bietjie vinniger en verdwyn regsaf in die volgende straat – nader na die huis toe.

Ons loop hand aan hand en gesels saggies. In die middel van die pad – asof die plek aan ons behoort. Dis nou nie juis asof daar verkeer is om oor te worry nie. Ek voel ‘n paar druppels op my val ek kyk op. Dis te donker om enige wolke te sien. Ons gesels oor die moontlikheid van reen; niks is voorspel nie. Weird weer. Hand aan hand in die straat af, die rustigheid vanself. Steeds nie ‘n siel in sig nie – soos dit hoort. En toe draai daai polisiebakkie aan die onderkant van die straat in ons rigting in…

Op ons regterkant is ‘n groot parkie. Dis kortpad huistoe. Ek sê “KOM!” toe ek die blou ligte sien. En toe is die gala aan! Ek vlieg weg. Sonja vlieg weg. Daai polisiebakkie gear terug en hy vlieg weg!

Dis funny hoe baie dinge in daai breukdele van sekondes deur jou kop gaan. Dit is nog funnier hoe vinnig ek spoed kan optel met al daai pap en sous in my. Gewigsgewys is ek maklik dubbeld Sonja se size, maar pappie… Ek pull onder haar uit! Hafpad oor die parkie skree Sonja ons moet terugdraai en in die parkie wegkruip. Die polisiebakkie sien waarheen ons oppad is en besluit genadiglik om nie deur die parkie te jaag nie, maar padlangs om die blok. Dit gee ons ‘n blind spot om te ontsnap. EK skree nee – ons hou reguit aan. As ons gelukkig is kan ons die huis maak.

Ons maak die anderkant van die parkie. Volspoed soos net twee veertig-plus-jariges dit kan doen – met ‘n moerse gesteun en gekreun! Dis 100 meter na die volgende afdraai toe. As ons dit tot daar kan maak voor die polisie om die draai kom, is ons veilig. Ek luister na die bakkie wat full revs aankom. Shit! Ons gaan dit nie maak nie!

Ons stop morsdood in die middel van die straat. Wegkruip is nou al opsie. Sonja ken die mense in die buurt. Hardloop ons by iemand in wie sy ken, of soek ons ‘n goeie skuilplek? Keuses, keuses, en daar is nie veel tyd nie. Daai polisiebakkie gaan enige oomblik om die draai verskyn…

Ons hardloop by ‘n erf sonder ‘n muur in. Daar is ‘n lekker digte ry roosbome.  (‘n Paar dae later het ons weer daar verby gery – daai roosbome het nie ‘n blaar op nie!  Jy kyk regdeur hulle!)  Agter dit in. Plat op die grond. Shit, dis naby aan die pad… Nog platter dan. As hierdie ouens ‘n lig skyn gaan hulle ons sien. Maar ons is net betyds. Die polisiebakkie kom om die draai en verminder dadelik spoed. Hulle weet ons kon dit nie ver gemaak het nie.

Skielik is daar stemme in die straat. Mense wat uit hulle huise uit kom. Dis nie baie vleiend nie, maar hulle het ons hoor hardloop en die bakkie hoor jaag. Die polisie stop by die mense op die sypaadjie. Ons kan elke woord hoor, selfs onder die geraas van ons asemhaling en harte wat in ons kele klop. Die polisieman lag hardop. “Jis, maar daai oom kan hardloop!”, lag hy. Oom se gat, man, dink ek. Maar ek hou dit vir myself.

Ek loer terug na die huis waar ons wegkruip. Iemand binne-in die huis beweeg na die voorste vensters toe. Shit… As hy links kyk gaan hy ons sien. Maar hy doen nie – hy kyk na die straat en die polisiebakkie wat stadig verby ry. Die polisie lag steeds. Maar hulle soek. Na wat soos ‘n ewigheid voel verdwyn hulle om die draai. Sonja sê ons moet laat wiel, ons het ‘n gaping. Ek sê ons moet wag – ek kan hoor daai bakkie versnel vir nog ‘n rondte om die blok. Anyway – daar is heeltemal te veel stemme in die straat. Hier is aksie in die buurt, en niemand gaan uitmis daarop nie. Iemand mag ons dalk sien. So bly ons toe maar in ons dekking.

Die polisiebakkie kom weer verby. Stop en gesels twee huise van waar ons lê. Dit voel soos ‘n ewigheid. Regtig?! Hoeveel geselsies kán julle maak? Kry klaar en ry – ons is gatvol gestap! Dan kom ry hulle weer stadig verby. Ek kan sweer ek voel hoe kyk daai polisieman vir my. Ek lê en wonder wat sê mens vir die polisie as hulle nou sou stop en na ons toe stap. “Naand, Konstabel. Is daar ‘n probleem?” voel nie gepas nie. Hierdie fine gaan Sonja se fine van vroeër soos – ironies genoeg – ‘n walk in the park laat lyk. As ons gelukkig is, en nie gearresteer word nie… Sonja lê en wonder oor spinnekoppe wat oor haar mag loop. So dek ons saam alle moontlike scenario’s sonder dat ons dit agterkom.

Toe daai bakkie weer om die draai verdwyn hoor ons die stemme in die straat raak stil. Ek wil nog ‘n sekonde of drie wag, maar Sonja spring op en begin fluks stap. Ek gaan nie alleen agter daai bos bly nie, en vlie op. By die randsteen laat spaander ons weer. Dis twee huise, om die draai, en dan 20 meter tot by die huis. Ons lê dit ook in rekordtyd af. Veilig en vry!

By die huis wys Sonja vir my die skoene wat sy aangehad het. PLAKKIES! G’n mens kan in plakkies hardloop nie! Behalwe natuurlik wanneer die polisie jou jaag. Dan hardloop jy in plakkies en safety boots, soos ek. Usain Bolt se spikes sou skaam gekry het.

Weer ‘n glasie wyn later – vir die skok, mos – en nadat ons gestort het en almal rustig geraak het, lê ons in die bed en giggel soos twee tieners. ‘n Bakkie kom in die straat af. Ons altwee raak tjoepstil – haal nie eens asem nie! Toe hy verby is lag ons oor ons optrede. Lockdown het van ons Bonnie en Clyde gemaak – twee voortvlugtiges wat die gereg moet ontduik. Dis deesdae ‘n misdaad om na ete bietjie te gaan stap.

Ek vra vir Sonja of sy aan haar fine of die dinge by die werk gedink het toe ons daar agter die bos gelê het. Nope. Dis goed – dan het die stappie gewerk. Sy kon haar kop skoon kry. Ons giggel oor die ironie daarvan. Soms het mens net bietjie ‘n ander uitdaging nodig om perspektief te kry op dit wat jy dink erg is. Sonja sê weghardloop vir die polisie was nog nooit op haar bucketlist nie, maar sy’s bly daai boksie is ge-tick. Nooit weer nie. Ek soek plek agter my boksie om nog ‘n tick te maak. So baie merkies. Ek raak nou te oud vir die nonsens…

Die galloppie oor die parkie het ons goed gedoen. Ek is nou amptelik die naelloop-kampioen in ons gesin, en ons het ‘n lekker stout storie om vir die kinders te vertel.  Ons slaap daai nag soos klippe. Toe ek wakker word die volgende oggend giggel ek weer. Ek kan sweer dit was ook die laaste ding wat ek gedoen het voor ek aan die slaap geraak het. Ek wonder hoe het die polisiemanne daai storie vertel toe hulle terugkom by die stasie. Ek wonder of hulle ook gaan giggel voor hulle aan die slaap raak na die nagskof…

Leave a Reply