Donnerse Tsotsies…

Donnerse Tsotsies…

Ek sien hom twee of drie keer per dag – soggens vroeg wanneer hy sy vragte bokse na die straathoek toe stoot, en saans wanneer hy die hele spulletjie terugpiekel huistoe. Edward.* So het ek maar agtergekom, is sy naam. Stil, teruggetrokke man.

Edward is ‘n straatsmous op ‘n hoek net om die draai van my werkswinkel af. Zimbabwiër van oorsprong. Pikswart. Ek noem dit, want hy laat my altyd verlang na my ex-32Bn troepe van weleer. Dis dalk hoekom ek van dag een af ‘n liking in die man gehad het. Edward doen die straight and narrow in sy nuwe land. Hy werk hard; maak ‘n eerlike lewe. Kos, groente, vrugte, sigarette, peanuts, klere – Edward verkoop alles wat mense soek en koop. Hy hernu klokslag sy smouspermit, betaal elke maand sy huur waar hy en sy gesin bly en stuur sy twee kinders elke dag skool toe. Sondae word almal in hulle heel bestes aangetrek, en dan gaan die gesin kerk toe. Sy vrou is altyd vriendelik; die kinders het die mooiste maniere en groet altyd skaam-beleefd. Jy hoef net eenkeer vir Edward te kyk om te weet dat hy nie ‘n tsotsi is nie. Die verslete Bybel wat ek elke oggend in die vensterbank van sy huis sien lê vergaar nie stof nie.

Vanoggend het ek weer vir Edward gesien. Die vriendelike glimlag van elke dag was nie daar nie. Edward het gefrons toe hy groet; daar was ‘n wolk oor hom. Die man by hom het ‘n bruin leêr houvas. Polisie-tipe. Ek het net terug gegroet en verby gehou. Stilweg het ek gehoop Edward het nie enige probleme met die gereg opgetel nie. Ek hou meer van Edward as van die gereg – veral deesdae.

Ek is werkswinkel toe om bietjie stof te maak; dit verkwik my gemoed in hierdie tyd. Vee die plek uit. Sit hier ‘n nuwe rak op, skuif daar ‘n masjien rond, skaaf en skuur aan ‘n paar plankies. Daar is nie werk om te doen nie, maar mens kan op ‘n manier besig bly. Kort-kort loer ek in Edward se rigting. Die polisieman en sy sidekick het getalm. Op en af gestap. Praat. Frons. Skryf. Praat. Belangrike meneer. Edward se skouers het gehang. Later sien ek die dieners klim in hulle kar en kry hulle ry. Ek staan en wonder nog of ek moet oorstap en gaan uitvind of alles orraait is, toe sien ek Edward kom stap in my rigting. Ek sit dit waarmee ek kastig besig was neer en stap nader.

Edward groet my in sy perfekte Engels. Ek groet terug in my selfverdediging-Engels. Hy verneem na my gesondheid. Ek lieg en sê dit gaan goed. Hy simpatiseer met my oor die inbraak by my werkswinkel – die hele buurt weet al. Ek sug. Hy sug. Ek beduie in die rigting van waar die polisie gestaan het en vra “Problems?”

Ja. Problems. Die tsotsies het by hom ingebreek en sy hele voorraad sigarette gesteel. Die kos en die klere gelos. Die sweets en die peanuts gelos. Net die sigarette gevat. Edward maak sy hart oop – hy vertel dat nie verstaan hoekom mense dit doen nie. Hulle kan vra – hy sal help. Hy doen dit al so lank. Mense ken hom daar op sy hoek; hy het ‘n goeie hart. Hy werk hard. Hy doen eerlike besigheid. Hy doen niemand in nie. Hoekom dan? Dan hoor ek hom die eerste keer ooit Afrikaans praat. “Donnerse tsotsies!”.

En dan sug Edward mismoedig. Hy sal moet skelm sigarette begin verkoop om sy verliese op te maak. Sy gesin moet eet. Ek hoor wat hy sê. Ons is almal in daai bootjie. En verstaan. Ek knik instemmend. Dis hartseer – misdaad dwing hom om nou self ‘n misdadiger te word. Ek sê hy moet versigtig wees. Hy knik. Dit is wat dit is.

Toe hy groet skud ons nie blad nie. Social distancing en all. Maar ons doen in ons geestesoog. En ek druk sy hand bemoedigend. My hart bloei vir die eerlike ouens wat net ‘n eerlike lewe probeer maak. Right now is dit net die tsotsies wat ‘n lewe maak. Die res bloei.

Ek hoop Edward verkoop ruim skelmsigarette. Ek hoop hy word nie gevang nie. Terug in die workshop skop ek ‘n plank en swets binnensmonds. My oog dwaal na die leë rak waar die kraggereedskap wat oor die naweek gesteel is, altyd uitgepak was. So much for being a good guy. Donnerse tsotsies…

*Skuilnaam.

Leave a Reply