En net daar val die eier…

En net daar val die eier…

Dis Vrydag-oggend, 24 April 2020. Net vir die rekord, mos. So paar ure terug het president Cyril Ramaphosa die nasie toegespreek en die vyf fases vir die verligting van die Groot Inperking aangekondig. Dis ‘n gesprek vir later, maar vir nou is my reaksie “At fucking last! There’s a plan. Well done!” Maar dit daar gelaat; ek het dinge om aan te spreek wat voor hierdie toespraak gebeur het.

Op Dinsdag 21 April 2020 het Ramaphosa die nasie toegespreek en ‘n R500 miljard hulp-pakket aangekondig. Die detail daarvan is die vlak vol; Google dit gerus. My reaksie op Facebook was as volg:

Dit dan die bron van hierdie relaas wat volg.  Maar kom ek gee ‘n tree (of veertig) terug.

Ek beweeg nie in die liberaalste kringe nie, en my Facebook-vriende kan daarvan getuig. Toe ek in Afghanistan gewerk het, het een van my COP’s altyd gesê:

“If you’re not a socialist in your twenties, you don’t have a heart. If you’re still a socialist after your twenties, you don’t have a brain.”

Ek het myself doelbewus omring met die republikeine van die lewe; die demokrate van die samelewing was net té over the top. Net té konformerend (is dit even ‘n woord?). Net té ingestel daarop om ander te help ten koste van die groter prentjie. My verstand het nog altyd gesê jy moet ‘n man leer om self vis te vang; jy kan nie heeldag verniet vis by hom aflaai nie. En tog…

Ek is baie brein en so bietjie hart. Hel, ek haat dit om swaarkry te sien. Ek haat dit om seerkry te sien. Ek fight al my hele lewe lank, bewustelik en onbewustelik, om seerkry en swaarkry te voorkom of te verminder daar waar ek is. Ouderdom bring wysheid, en deesdae weet ek dat ek nie die wêreld kan red nie – ek moet elke dag myself en my eie red. En as elke ander ou in die wêreld dieselfde doen, sal alles orraait wees. Maar dit is nooit. Want party wil hulself red, en meeste ander wil terugsit en gered word. Dis makliker so. Vir ander.

Toe Cyril op Dinsdagaand sy R500 miljard hulp-pakket aankondig, was ek “all in”. Die staat, die regering, moes iets doen om seker te maak dat mense nie krepeer en doodgaan van die honger nie. Vergeet van sosialisme – dis ons Christelike plig. Of jy nou ‘n Christen is of nie. Maar ek het meer verwag. Van Cyril.  (Ek het altyd geweet die plan gaan tipies ANC wees, so daarvan het ek niks verwag nie.)

Dis een ding om geld te gaan leen om jou verpligtinge na te kom. Dis iets totaal anders om ‘n plan te hê om daardie lening te diens. Want dis ongelukkig hoe lenings werk: eventually moet jy dit terug betaal. Met fokken rente. En die laaste 25 jaar lyk dit asof ons regering nie ‘n benul het van enige van die twee nie. Ons land leen en leen en leen, en deesdae leen ons om dit wat ons geleen het terug te betaal. Erens gaan jy vasbrand, veral as jou inkomste – aka BELASTING – nie die nodige opbrengs toon nie. En dis ons land se probleem. Die belastings wat gehef word – die inkomste – moet ten minste die uitgawes match, anders brand jy vas.

Ek ken van vasbrand. Fok-weet, ek ken dit goed. En op die Facebook-inskrywing  van hierbo se latere kommentaar mag dit deurskemer as jy die laaste vyf jaar geweet het wat in my lewe aangaan. (We’ll get to that…)  Ek het deur die trauma van vasbrand baklei. Ek sidder om te dink dat my land dit op ‘n makro-skaal moet doen.

En daarom het ek ge-“rant”. (Vir die rekord: ek het dit nie as ‘n ranting gesien nie. Meer daaroor later.)

Aan die begin van 2015 was ek on top of the world. Nege maande vantevore het ons gat geskop met ‘n aanval deur die Taliban op ons villa. Almal het bly leef, en die Taliban-dudes is almal hel toe. Die Amerikaanse Department of State het my Washington toe genooi om een van hulle kongresse toe te spreek, en op die koop toe het die Secretary of Homeland Defense ‘n mooi geraamde Amerikaanse vlag in my hand gestop. Ek was op die top van die golf.

Op 28 Februarie het ek vroegoggend die finale dokumente geteken en ge-email vir die koop van my huis in Wellington. Life was good.   En toe, skielik, was life nie meer so good nie.  Ses ure later is ons in kennis gestel dat president Obama die USAID en USDA begrotings vir Afghanistan met 90% gesny het – effektief onmiddellik. Ek was operasionele bestuurder van twee projekte – die een ‘n $100m projek, die ander ‘n $40m projek. Skielik was daar net $9m vir die volgende drie jaar. Die volgende dag het al die expats op die twee projekte hulle notice gekry: 31 Maart is almal op vliegtuie terug huistoe. Game over. En anders as in Suid-Afrika, is daar nie unies en sulke kak nie. Employment at will, noem hulle dit.  En die Yanks wou nie meer nie.  Koebaai.

So van 1 April 2015 was ek werkloos. No worries, though. Voor dit was ek in gesprek met ‘n groot Suid-Afrikaanse bank wat baie belang gestel het in my projekbestuur-kwalifikasies, so daar was ‘n sterk moontlikheid vir werk. Maar toe ek die dag in daardie onderhoud sit en die hoof van hulle projekbestuur-afdeling sê vir my dat my kwalifikasies meer is as selfs syne, toe weet ek: begin verder soek, Soldaat.

Was jy al oor 40, Blank, en werkloos in hierdie land? Kort antwoord: jy gaan werkloos bly. En so was dit. Ek ryg nie derms daaroor nie – dit is wat dit is. Maar ek was stupid. Ek moes toe die geld wat ek gehad het gevat het en my eie besigheid begin het. Helaas – ek het nie. En elke maand moes die huis betaal word. Ek kos. En klere vir die kinders. Skoolgeld. Bediende. Skooltoere. Karpaaiemente. Munisipaliteit. You name it. Fok, mens besef eers te laat waar gaan al jou geld heen wanneer dit begin opraak… Ek het die eier amper-amper laat val.

En toe sny ons.

Die Hemelse Vader het vir my ‘n wonderlike vrou gegee. Sy is uitsonderlik op elke gebied, maar een daarvan is om ‘n rand te draai totdat Mandela se oë traan. En pappie, sy het vir hulle gedraai. Dit was heel waarskynlik ons behoud. Somehow het ons elke aand kos op die tafel gehad, selfs toe nie een van ons ‘n werk gehad het nie. Ek vat nie die eer daarvoor nie – dit kom haar toe. Met die bietjie wat ons gehad het, het sy dinge maak werk.

En net toe ons rock bottom slaan, kry sy ‘n seisoen-joppie by een van die plaaslike kelders. Dit was peanuts, maar fokkit! – ons kon daarvan lewe! En so hou Sonja se parstyd-joppie ons aan die gang. Dit was broekskeur, maar ons het survive. Die eier het nie geval nie.

Aan die einde van Maart 2016, na presies ‘n jaar sonder werk, kry ek ‘n joppie in die Kaap, en ek vat dit. Die brandstof kos ‘n plaas se geld, maar aan die einde van die maand kon ons toe darem weer ‘n huispaaiement bekostig. Dit gaan broekskeur, maar ek het ‘n werk – ons is dankbaar. Binne weke daarna kry Sonja ‘n werk by ‘n kelder in Wellington. Hallelujah! Ons tel ons seëninge en dank God vir die genade. Ons begin om alles wat agterstallig is in te haal – kar, huis, munisipaliteit, die werke. Ons is weer semi-middelklas. Net-net. Die eier is heel.

So gaan dit “goed” vir ‘n jaar. Einde Maart 2017 is daar toe ‘n berg afleggings by die maatskappy waarvoor ek werk, en einde te laaste is ek daar weg. Calamity, reg? Nie waar my vrou regeer nie! Ons maak dit steeds op haar inkomste, en Mandela se oë traan nie – hy huil! Die lesse van die vorige jaar sonder werk sit vlak, en ek druk alles wat ons het in die begin van my eie besigheid in. Na honderde CV’s wat ek uitgestuur het weet ek dat ek nie op ander kan staat maak nie – dis tyd om my eie potjie te krap.

Die versoeking om terug te gaan Afghanistan toe knaag heeldag en aldag – dis so maklik om ‘n paar oproepe te maak. Maar die deal wat ek gemaak het op 28 Maart 2014 verhoed my. (Lees eendag meer daaroor op hierdie blog…) Daar is sekere dinge wat belangriker is as geld, selfs al begin jy en die balju mekaar soos ou vriende groet elke keer wat hy papiere bring… Sonja weet hoe dit aan my vreet, en sy dra my. Heeltyd, op daai mooi breë skouers van haar. En ons laat val nie daai eier nie, ten spyte van die wolf wat die voordeur en agterdeur laat steier.

Terug by die besigheid wat ek begin het… My grootste fan was my vrou. Op dag een was sy ook die enigste een. Saam het ons die lang en moeilike pad gestap. Daai 1000 dae wat almal van praat wat dit vat voordat ‘n start-up die start-up survive het en begin goed doen. Ons het dit aan ons velle gevoel. Lang ure. Maande van min inkomste. Hier ‘n deurbraak, daar ‘n terugslag. Groeipyne. Deur dit alles het ons vasgebyt; elke dag opgestaan en dit ‘n go gegee. Tussendeur was Skoonpa daar – met raad en geldelike ondersteuning. Baie om voor dankbaar te wees uit my eie kring, terwyl elke ander ou en sy maat die beste deal uit jou klein besigheidjie probeer wurg het.  Maar jy bly op jou knieë.  Jy bid en glo en worstel en bid en glo.  

Arm-wees en swaarkry het my nie na geloof laat gryp nie. Inteendeel. Ek kan met oortuiging vandag sê dat my geloof op sy sterkste was toe dit die heel beste met my gegaan het. Finansieël, that is. Funny thing about Afghanistan – die baie tyd wat jy het om met jou Skepper te verkeer. En daar het ek as gelowige baie gegroei. Maar ek skat dis maklik om goed te doen en te groei as dit goed gaan. Want toe dit sleg gaan het ek getwyfel. Baie. En geworstel. Baie. So jaar terug het ek deel geraak van CBMC hier in Wellington, en ek geniet en waardeer dit verskriklik. Die een ding wat my egter konstant in die krop steek is wanneer ons groepleier sê dat swaarkry ouens na geloof dryf. NEE!!!, wil ek skree! Dis andersom – swaarkry laat jou juis twyfel! Want ek het baie getwyfel… Maar dan lees ek iets, of hoor iets, of sien iets – ek ek weet: God is daar. Hierdie is alles deel van Sy Groot Beraam. En so bou ek muscles heeltyd. Geloofs-muscles. Ek God help dat die eier nie val nie.

Terug besigheid toe. Dit het broekskeur gegaan aan die begin, maar stadigaan het dinge begin optel. Net wanneer jy self al ‘n klein besigheid van scratch af begin het en daarmee vasgebyt het sal jy verstaan wat die agony en majesty daarvan is. Om wins te maak en elke sent daarvan terug te ploeg in die hoop dat jy voorkant toe meer wins sal maak.  Die kanse wat jy vat. Die pakslaes wat jy kry. Die terugsette en die vooruitgang. En dan skielik(?) op een dag kom jy agter dinge begin eintlik heel goed gaan. En elke maand kan jy ‘n wesenlike bydrae tot jou huishouding maak (terwyl jou vrou se inkomste die enigste finansiële konstante in jou lewe is…), but you’re getting there. Die bestellings raak groter. Die stukkie wins aan die einde van elke maand raak meer. Jy kan masjinerie opgradeer en vervang. Jy trek nie ‘n salaris nie – jy sorg vir jouself!

Die klein suksessies is soooo die moeite werd! Ek kyk terug oor die laaste drie jaar en onthou elke keer die glasie wyn wat ek en Sonja geklink het op ‘n groot bestelling – elkeen was precious! Elke glas wyn was nektar! Maar deep down was dit nie altyd maanskyn en rose nie. Net omdat dit beter gegaan het, het nie beteken dit het goed gegaan nie. Die som het steeds nie altyd geklop nie, en onder die bottom line was daar baie pakslaes. Nie net wat finansies betref nie. Pêlle wat in die goeie tye smiddae gestop het vir ‘n vinnige drankie of ‘n braai het stadigaan nie meer ‘n draai gemaak nie. Uitnodigings na braaie en partytjies het stadigaan minder geraak en later opgedroog. Arm-wees en die Corona-virus is nefies – social distancing raak die norm. Selfs al was daar altyd ‘n ekstra glasie wyn in my huis; ‘n los geldjie vir ‘n kinderpartytjie. Maar dit het oorgestaan…

Nie dat ek verwyte in my ronddra daaroor nie. Dit is wat dit is. Deur dit alles was daar great pêlle; selfs nuwe pêlle. Hulle is die real deal, die res is kennisse – I guess. Die een kennis wat egter die real deal was, was die bank. Die gala was aan, en so hard soos wat ons probeer het kon ons nie ons huis behou nie. Sale in Execution, dink ek het op die balju se papier gestaan. Party fights wen jy net nie, maak nie saak hoe hard jy probeer nie. Daai een het ek verloor. So terwyl my besigheid on the up and up was, het daai deel van ons lewe spektakulêr inmekaar gebliksem. Al ooit die dak oor jou kinders se koppe verloor? Nie lekker nie, pappie. Nie lekker nie…. Maar die eier het nie geval nie. Close, but no cigar.

God was deur dit alles vir ons as gesin en vir my persoonlik ONGELOOFLIK GOED! Net vanoggend gesels ek met ‘n tannie met wie dit verskriklik swaar gaan. Sy is post-aftree, maar moet elke dag werk om die pot aan die kook te hou en haar dak oor haar kop te hou. Sy vertel hoe sy twee ure lank by ABSA in die ry gestaan het om die debietorder vir haar huis se huur te stop – sy kan dit nie hierdie maand bekostig nie. Vir die eerste keer in tien jaar. My hart bloei vir haar, maar daar is niks wat ek daaraan kan doen nie. Ek wens ek kon, maar die realiteit is dat ek in die dieselfde bootjie is met my werkswinkel se huur. Vir April was my inkomste nul Rand en eweveel sente. Ek moet ook die landlord gaan spreek in die dae wat kom; hoop om ‘n reëling te maak.

Maar vinnig verander ons gesprek, en ons begin ons seëninge tel. Ons is gesond. Ons kan en wil werk. Ons gaan weer werk – wanneer Cyril dit toelaat. Ons het kos op ons tafels. Ons het wyn in ons glase. Ons altwee weet waar om ‘n smokkelsigaret te koop sou die nood en lus druk. Al is dit dan ook op skuld – ons ken mense! En stil-stil staan ek daar en ek dank God vir Sy genade die afgelope vyf jaar, en spesifiek die afgelope klompie maande. Ons gesin het ‘n dak oor ons koppe en – contrary to everybody’s expectations – bly ons vrek lekker by my skoonouers. Ons tel ons seëninge, en hulle doen ook. Veral in hierdie tyd. Vir die eerste keer in ‘n lang tyd pla die balju nie – nie omdat hy ingeperk is nie, maar omdat ek is vry is van daardie las. God voorsien – mildelik! Die eier is heel veilig!

Wat my bring by een van die opmerkings wat ek toe later op my eie Facebook-inskrywing maak – net om seker te maak mense weet presies waar ek staan en hoe ek dink:

Fair enough, reg?  

As daar een ding is wat ek nou al geleer het, dan is dit om jou woorde te tel op sosiale media.  Weeg en oorweeg elke woord, want die goed het ‘n manier om terug te kom en jou in die gat te hap.  

Die ander ding van die dag se gebeure (behalwe Cyril se Marshall-plan van soorte) wat my dwars in die krop gesteek het, was die stil-stil kennisgewing dat meer as 73 000 soldate opgeroep word vir binnelandse ontplooiing.  WHY?  Om kospakkies uit te deel?  Of om krygswet af te dwing?  Maar Cyril was tjoepstil daaroor, terwyl hy die geleentheid gehad het om dit aan te spreek in sy toespraak daardie aand.  En ek het nie geskroom om my wantroue daarin uit te spreek nie.  Dis duidelik bewoord.

En nou kom ons uiteindelik by die titel van hierdie skrywe.  Jandre maak toe die volgende opmerking:

Ek gooi nie vir Jandre onder die bus hier nie.  In fact, ek respekteer hom genoeg om sy naam te wys en hom direk aan te spreek – so moenie dink hierdie is ‘n nasty move nie.  

Hier was my antwoord:

En dit hierbo, liewe leser, staan ek by. 

As jy deur die ellelange relaas hierbo kon worstel, sal jy verstaan waar ek vandaan kom en waarom ek FANATIES is oor my besigheid en my vermoë om te verdien en te sorg vir my eie.  Toegegee – bitter min het dit tot nou geweet.  Ek dra nie swaarkry op my mou nie, en as jy my vra hoe dit gaan sal ek altyd vir jou sê dit gaan kookwater – want dit doen. Ek weet hoe dreinwater dit kan gaan, maar ek is nie daar nie.  Wat jou betref gaan dit goed met my.  Thank you for asking.

En Jandre antwoord toe:

Nee, my vriend.  Die eier het nie geval nie.  Na al hierdie tyd is daar geen manier dat ek die eier gaan laat val of dat Cyril en sy inperkingsbende my die eier gaan maak val nie.  Ek, ons, dra daai eier al te lank.  

Ja, ek is in my moer in gefrustreerd met die feit dat ek nie kan besigheid doen nie.  Die realiteit is dat 95% van my inkomste afkomstig is uit industrieë, besighede en kliënte wat nog lank gaan steier onder die gevolge van hierdie inperking.  Dis nie die tipe bedryf wat jy vir weke kan toemaak en dan skielik weer opstart en full revs laat loop nie.  Die toeriste gaan nog maande lank wegbly, die restaurante, proelokale en wynplase gaan nog baie lank taboes wees.  Daarmee saam gaan die meerderheid van my kliënte se besigheid nog lank bloei – die wat dit oorleef.  Ek gaan dit saam met hulle voel.

Ek “rant” nie oor wat aangaan nie – hierdie is my harde, koue, eerlike werklikheid.  Ek het die doldrums van die laaste vyf jaar deurstaan.  Ek het stadig maar seker my besigheid opgebou tot die punt waar ek en Sonja kon glimlag en high-five omdat dinge uiteindelik in plek geval het.  Die inperking het nie vier weke uit my “business-as-usual” gevat nie;  dit het my besigheid vir alle praktiese doeleindes vernietig.  Al ooit alles verloor?  Been there – not lekker.

Verstaan jy dan, Jandre, dat ek so klein bietjie rede het om ontsteld te wees?  Verstaan jy dat “diep duik op een asem” nie vir my iets nuuts is nie?   Ek sit vanaand hier en spill my guts, maar ek kan vir jou ‘n brief met ‘n poelies-tjap op gee dat daar mense is wat saam met jou hier lees, met wie dit aansienlik kakker gaan.  Eerlik-wees is nie “rant” nie.  My werklikheid verskil dalk net so bietjie van joune, en jy ken/herken heel moontlik nie waarmee ek stoei nie.

Maar laat die hele wêreld vandag getuie wees:  hierdie soldaat ken fokol van opgee nie.  Ondervinding het my geleer ek fight heel effektief van my knieë af.  En ek het vyf jaar se vars “oorlogsondervinding” – geen virus of ANC-regering met kak planne gaan my kelder nie.  My huwelik is sterk.  My resolve is sterk.  My geloof is sterk.  Ek het nie ‘n regruk nodig nie – ek is lankal geruk.  Ek is reg.  Bring it on!

PS:  dankie vir die kompliment – ek hou van lei en sal altyd probeer om vir ander ‘n inspirasie te wees.  En dankie vir gaping wat jy my gegee het om ‘n slag af te laai.  Ek skuld jou een.  Moet asseblief nie wat ek hier geskryf het verkeerd opneem nie.  Ek waardeer jou vriendskap en jou insette.  En ek sien wat jy wil doen met dit wat jy gesê het.  Sien asseblief alles wat ek hier geskryf het in dieselfde lig.

79, uit.

Leave a Reply