Lockdown Dag 16: Van moerig na mak

Lockdown Dag 16: Van moerig na mak

EK gaan nie lieg nie:  toe die prez Donderdag-aand aankondig dat hy die lockdown met ‘n verdere twee weke verleng was ek dik moerig.  Brombeer se moses.  Ek het buitentoe gestap, ‘n sigaret gaan rook, my bek gaan skrop en toe in die bed geklim.  En ge-sulk.  En so het ek Vrydag opgestaan.  Hoogs moerig.  Want WTF dink die regering?!  Ek is nie so gelukkig soos een miljoen plus staatsamptenare wat forever by die huis kan lê en vrot en daar val klokslag ‘n pay tjekkie in my bankrekening nie.  Ek moet werk, my kliënte moet werk, die ekonomie moet werk – anders is daar NIKS!  Nie ‘n blou sent se inkomste nie!  En dis nou nie juis asof ek en my besigheidjie heel voor in die ry staan vir finansiële hulp en hand-outs nie.  Nope, Sir!  

So kom sit ek toe Vrydag-oggend vroeg met ‘n beker koffie en ‘n donkerwolk wat oor my kop hang, en die eerste ding wat ek doen is om Facebook te check.  Baie grappies oor die 14 dae extension.  So hier en daar beweeg my mondhoek vir iets snaaks, maar niks laat my smile nie.  Dis Goeie Vrydag, maar dit voel asof Cyril gisteraand my besigheid gekruisig het; my voortbestaan dood getrap het.

Ek scroll maar deur Facebook en almal se snaaksighede en baklei en verontwaardiging, totdat my oog hierdie stukkie vang wat deur Kmdt Willem Ratte geskryf is:

En soos Kenny Rogers in The Gambler opmerk: “in his final words I found an ace that I could keep”…

This, and the whole story of Good Friday, is both an exhortation not to shirk difficulties, obstacles and suffering when wanting to lead a good life, – but also a consolation if, or rather when, we encounter life’s difficult moments, agonies and pain. As we, in our simple, but honest belief can see it: What is the pain I might suffer compared to His on the Cross of Good Friday?

Ek het die beste deel van ‘n uur daarna gesit en staar.  Dit oor en oor gelees.  Die kwaad het gewyk, en net skaamte het oorgebly.  So baie gaan so baie meer as ek verloor in hierdie tyd. Ek is geseënd, vergeleke met die duisende, nee miljoene, wat in hierdie tyd honger sal moet gaan, dag in en dag uit.

En toe staan ek op en gaan kyk ‘n kerkdiens saam met die res van my hartsmense – met berusting en die wete dat alles fine gaan wees.  Jesus het nie net op hierdie dag vir my sondes gesterf nie, maar Hy het my ook vrygekoop.  Geen teëspoed of pyn kan ooit vergelyk met die kruis wat Hy moes dra of die lyding wat Hy moes verduur nie.  En dit alles vir sondige, selfgesentreerde my.  Ek sal fine wees.  Ons sal fine wees.  Ek hoef nie noodwendig saam te stem met die Groot Inperking nie, maar ten minste weet ek nou (weereens!) waar om my krag te kry terwyl ek dan nou hier is.

Dankie, Kommandant Ratte.  God het Vrydag-oggend een soldaat gestuur om ‘n ander ‘n propperse regsrig te gee.

Leave a Reply