Lockdown Dag 7:  Tyd Om Die Kristalbal Af te Stof…?

Lockdown Dag 7: Tyd Om Die Kristalbal Af te Stof…?

Teen die einde van vandag is Week 1 van die Groot Inperking iets van die verlede.  Die staat beweer daar is nog net 1380 positiewe COVID-19-gevalle, en dat slegs 5 tot op hede (1 April 2020) daaraan dood is.  Die grafieke hieronder vergelyk ons met die res van die wêreld:

SUID-AFRIKA: 1 APRIL 2020

WERELD: 1 APRIL 2020

Ek wil nou nie sinies klink nie, maar ek ruik ‘n rot.  Tyd sal leer, maar ek vermoed die Suid-Afrikaanse data is soos die regering van die dag – korrup.  Maar dis nie waaroor ek vandag wil gesels nie.

Oom Bennie bel vanoggend.  Ons het so bietjie meer as ‘n jaar terug by CBMC ontmoet en intussen het die vriendskap lekker gegroei.  Hy het vanoggend besluit om bietjie in te check op sy pêlle en seker te maak almal skop nog.  Ons gesels vinnig en terloops oor die wêreld wat aan die einde van die Groot Inperking vir ons wag.  Agterna sit en wonder ek daaroor.  Wat kan ‘n mens te wagte wees?  Wat sou ek graag wou sien?  Dis alles dinge wat kort-kort die afgelope tyd in my kop kom nes maak, maar dan weer verban word.  Let’s first get through this SNAFU.

Een ding is verseker:  die ekonomie soos ons hom geken het is moertoe, my kroon.  Daar gaan swarigheid wees.  Daar gaan ook emmers vol geleenthede wees.  Die wat kan hustle gaan ‘n killing maak.  Die res gaan brul.  Iemand sê nou die dag op Facebook baie huishulpe gaan nou hulle werk verloor, want skielik kom almal agter hoe lank ‘n blik koffie regtig kan hou.  Lekker tong-in-die-kies, maar ek dink daar steek so bietjie waarheid daarin.  Gesinne gaan besef dat hulle baie dinge self kan doen.  En die nodigheid om te spaar en ‘n neseier te hê word hoeka skielik op almal afgedwing.

Ek lees en hoor van besighede wat links en regs toemaak;  werknemers wat onder lockdown is word by die huis in kennis gestel dat daar niks is om na terug te keer nie.  Die slagting het begin.  Baie ondernemings, veral die grotes, gaan skielik besef dat baie mense eintlik oorbodig is, en van hulle ontslae raak.  Hierdie periode is die perfekte verskoning vir daai S189-kennisgewings.

Aan die positiewe kant dink ek baie ondernemings gaan besef dat (a) werknemers vertrou kan word om van die huis af te werk, en (b) dat hulle nie al daardie kantoorspasie nodig het nie.  Veral hier in SA, waar dit nog altyd bietjie van ‘n ding was waaroor werkgewers gefrons het, kan dit ‘n paar interessante veranderinge meebring.  Ek kyk byvoorbeeld vir Sonja.  Sy pak steeds haar dag se ure in, kry alles gedoen wat sy moet doen, maar nie meer in die tradisionele 8 tot 5 bracket nie.

Vanaand gaan ek ‘n bottel wyn nader sleep, en ‘n wenslysie maak van wat ek graag in SA sal wil sien wanneer die deure weer eendag oop is vir almal, asook van nuwe geleenthede wat ek dink gaan oopgaan en waarna ‘n mens gerus kan kyk.  

Wat dink jy?  Is ons doomed, of kan ‘n mens maar optimisties wees oor wat voorlê?  Hoe sien jy dinge op 2 April 2021?

Leave a Reply