Lockdown Dag 8:  Prysuitdeling

Lockdown Dag 8: Prysuitdeling

Onthou jy DaaglikseDoos se prysuitdelings?!  Dis weer sulke tyd!

Na die eerste week van die Goort Inperking is dit tyd om bietjie terug te kyk en ‘n paar toekennings te maak aan individue, groepe en organisasies wat hulself  oor die afgelope week onderskei het, en dan ook die wat van hulself poepolle gemaak het.  Ek spring weg met so paar kategorieë wat ekself geïdentifiseer het, maar jy is welkom om voorstelle vir toekomstige kategorieë en benoemings aan te stuur.  Ek plaas later ‘n skakel hiervoor.

Daar bestaan twee hoofkategorieë, met toekennings vir presteerders in sub-kategorieë en ‘n overall wenner in elk van die hoofkategorieë.

UITSKIETERS

  • POLITIKUS
  • BESIGHEID/ORGANISASIE
  • INDIVIDU (PRIVAAT/OPENBAAR)
  • SPORTSPAN
  • MEDIA
  • MAN OF THE MATCH

MAMPARRAS

  • POLITIKUS
  • BESIGHEID/ORGANISASIE
  • INDIVIDU (PRIVAAT/OPENBAAR)
  • SPORTSPAN
  • MEDIA
  • MAMPARRA VAN DIE WEEK

Hiermee dan hierdie week se Uitskieters en Mamparras!

UITSKIETER: POLITIKUS

JULIUS MALEMA

Erken maar – jy’t nie hierdie een gesien kom nie!  Maar ja, Julius “SlowPuncture” Malema is hierdie week ‘n uitskieter.  Nadat hy sy naam aanvanklik lekker tottie gemaak het oor die privatisering van hospitale, het die ou in sy dop gekruip en huistoe gegaan.  Sonder ‘n string TV-kameras wat hom agtervolg het.  Genadiglik hoor ons dus niks van die verbale diarree waarmee hierdie “uitskieter” as ‘n reël mee vorendag kom nie.  Waar bly Julius?  Julius bly by sy huis en hy bly stil!  Prysenswaardig!

MAMPARRA: POLITIKUS

FIKILE MBALULA

Soveel van rondval oor regulasies het jy in jou lewe nie gesien nie  Dan ry die taxi’s, dan ry hulle nie.  Dan mag hulle 50% van hul kapasiteit dra, dan 100%, en dan 70%.  Deurmekaar soos kots in ‘n tuimeldroër, hierdie ou.  Soos met meeste ander goed, sukkel Bra Fiks bietjie met “decisive leadership”.  Al waarmee hierdie Mamparra nié sukkel nie, is om van een kabinetskommeling na die volgende te oorleef.  Ek voorspel hy gaan gereeld in hierdie kolom kom gesigwys.

UITSKIETER: BESIGHEID/ORGANISASIE

ELKE KLEINBESIGHEID IN SA

Party is oop, meeste is toe.  Voor die Groot Inperking was dit moeilik om ‘n bestaan te maak.  Na dese gaan dit haas onmoontlik wees.  Hang in there!  Moenie jou droom laat wegglip nie! Elkeen van julle is ‘n belangrike werwel in ons ekonomiese ruggraat.  Ten spyte van die pap wat die regering so (rassisties) blatant op die grond laat val, is julle die hoeksteen van die herstel wat gaan volg.  Maak planne.  Maak somme.  Maar belangrikste van alles:  maak julle deure oop aan die einde hiervan!

MAMPARRA: BESIGHEID/ORGANISASIE

SA BANKE & SELFOONMAATSKAPPYE

Iemand moet tog vir die Suid-Afrikaanse banke en selfoonmaatskappye laat weet dat ons as ‘n kollektief kniediep in die kak is.  Vergeleke met die res van die wêreld se ingrepe, het Suid-Afrikaanse banke tot op hede die uitnodiging na die partytjie blindweg geïgnoreer.  So hier en daar stuur hulle darem ‘n botteltjie cheap wyn en garage-pies.  Net genoeg vir ‘n sooibrand.  Lest we forget.

Die selfoonmaatskappye is ook nog op cloud couldn’t-give-a-real-shit.  MTN het beloof sy datapryse kom op 15 April af.  Helloooooo! Die peoples het cheap data sewe dae terug nodig gehad, julle idiots!  Die wat wel datapryse verlaag het – seriously?!  Is dit die beste wat julle kon doen, selfs net terwyl ons in Cele se stouthoekie sit en afhanklik is van julle produk om te weet waaroor Fikile vandag sy mind gechange het?  Bekotsenswaardig.

UITSKIETER: INDIVIDU (PRIVAAT/OPENBAAR)

ELKE GESONDHEIDSWERKER IN SA

Staan gerus op en gee ‘n warm handeklap vir elke gesondheidswerker wat hom/haarself in hierdie tyd afsloof en blootstel.  Julle verdien ons hoogste respek.  Die hulpbronne is min en die uitdagings gaan net groter en groter raak.  Hang in there!  Ons dra julle heeltyd in ons gebede!  Superhelde, elkeen van julle!

MAMPARRA: INDIVIDU (PRIVAAT/OPENBAAR)

GENL.MAJ PATRICIA RAMPOTA

Soos soveel ander polisie-generaals, is hierdie een nie die skerpste potlood in die blikkie nie.  Rampota het nie net Afriforum se skenking van handreiniger aan polisiestasies geweier nie, maar sy het ook opdrag gegee dat alle skenkings teruggee moet word.  Dit terwyl handreinigers en maskers in polisiestasies so volop is soos wors in ‘n hondehok.  Spesiale (klas) enetjie, die… 

UITSKIETER: SPORTSPAN

BULLS

Dis vandag 20 dae sedert die span van Pretoria laas verloor het – ‘n rekord vir baie seisoene.  Hou so vol, manne!  Ek dink as Jake White sy sin kry, bly julle in kwarantyn tot volgende seisoen toe!

MAMPARRA: SPORTSPAN

BOLAND RUGBY

Het jy al ooit ‘n tuiswedstryd van hierdie mamparras bygewoon?  Moenie sleg voel nie – niemand anders het al nie.  Nie oor die spelers nie, maar oor die administrateurs.  To be revisited… 😉

UITSKIETER: MEDIA

MAROELA MEDIA

Ek sal graag wil sien hoe vergelyk hierdie ouens se budget met die van News24 of Netwerk24 of een van die ander aanlyn-nuusdienste.  Ek vermoed dis ‘n pennie in die pond.  En tog is hulle berigte sober.  Hulle dekking is wyd en nie histerie-gedrewe nie.  Taalkundige versorging is goed, en hulle maak nie ander (opponerende) stemme stil nie.  As jy hulle nie ken nie, gaan maak gerus ‘n draai by Maroela Media.  Dis actually verfrissend om in hierdie tyd hulle berigte te lees – vergeleke met die MSM-tos waarmee ons bombardeer word.

MAMPARRA: MEDIA

NETWERK24

As die enigste betaalde Afrikaanse nuusportaal sou mens dink hierdie ouens kon teen hierdie tyd al ‘n manier uitfigure om hulle e-leser gebruikersvriendelik te maak.  Veral met die resources van Naspers agter hulle.  Nope.  Onbruikbaar en onprakties.  Heel waarskynlik…  never mind.  En dit alles teen R99/maand.  En ek betaal maar, want ek hou van die Landbouweekblad.  En net omdat dit my geld kos, wen NETWERK24 ook ‘n goue kaartjie na die groot prysuitdeling van hierdie jaar se finaliste toe.  Selfs dan sal die e-leser steeds useless wees. Winner, winner, chicken dinner!

MAN OF THE MATCH

CYRIL RAMAPHOSA

Ek dink ons moet op ons knieë gaan en dankie sê dat hierdie man in hierdie dag en uur die President van die RSA is.  

Moenie ‘n fout maak nie – ek is geen fan nie!  Maar ek weet wanneer dit tyd is om ‘n bietjie skiet te gee en erkenning te gee waar dit toekom.  Ons kon met Jacob Gatswaai Zuma opgeskeep gesit het. Dank die hemele ons doen nie.  Ramaphosa is ongelukkig gelukkig die beste wat die ANC kan bied.

Ramaphosa tree presidensieël op, hy is sigbaar, en hy kommunikeer.  Nie noodwendig wat ons wil hoor nie, maar ons hoor en sien immers ons leier.  En in tye soos hierdie is dit belangrik.  Verwag hom gereeld in die teenoorgestelde blokkie van hierdie toekennings, maar vir nou lig ek my hoed. 

MAMPARRA VAN DIE WEEK

BHEKI CELE

Amerika het vir Al Capone gehad.  Ons het vir Al Polony.  Hoofnar oor vele, en master of none.  Tipies Afrika “big man” verknog Cele hom tans in die magte wat hy skielik het.  En dit blyk heel vooraan met sy pet peeves is sigarette.  Ignoreer maar die lockdown, maar moenie laat ek jou vang sigarette koop nie!

In SA het ons nog nooit regtig naby aan ‘n diktator gekom nie, maar hierdie mamparra wys baie mooi wat wag op ons as hy ooit vertrou sou word met presidensiële magte.  Anders as mafia-base met statuur, is hierdie een bekend vir sy geraas en dreigemente.  Nie iemand om kop toe te vat nie, maar vrek-gevaarlik in die posisie waar hy tans is.

En daai hoed.  Fok  tog, daai hoed… 

Leave a Reply